Wie is ons

Die Afrikaanssprekende Linde-familie in Suid-Afrika stam almal af van een stamvader. Hy was Hans Jürgen Linde, wat in 1753 uit Duitsland in die Kaap aangekom het. Sy nageslag in Suid-Afrika strek tot in die negende geslag en daar is ongeveer 1,700 Afrikaanssprekende persone in Suid-Afrika wat die van Linde dra.

Hans Jürgen Linde(r) is op 21 September 1730 gebore en op 24 September 1730 gedoop te Hagsfeld, Durlach, naby Karlsruhe in Suid-Duitsland.

  • Sy vader was Hans Georg Linder wat in 1686 in Oberheim gebore is en in 1712 in Hagsfeld met Magdalena Barbara Brombacher getroud is.
  • Hans Georg was die seun van Hans Karl Linder (gebore te Hagsfeld in 1660 en in 1681 te Hagsfeld getroud met Anna Barbara Soyer).
  • Hans Karl was die seun van Simon Hans Linder (gebore in 1630 te Rintheim en getroud in 1655 te Hagsfeld met Anna Barbara Rausch.
  • Simon Hans Linder se vader was Hans Konrad Linder wat in 1604 te Rintheim gebore is en in 1627 met Barbara Raupp in die huwelik getree het.
  • Hans Konrad was die seun van Konrad Linder wat in 1580 in Oberheim gebore is en in 1602 in Hagsfeld met Magdalena Weber getroud is.

 

Hans Jürgen Linde het in 1753 met die skip Leijden in die Kaap aangekom. Hy was in daardie stadium soldaat in diens van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie. Hy word die volgende jaar wamaker en in 1757 plaasarbeider. In 1758 word hy burger van die Kolonie.

Hy versit na die Overberg en trou in dieselfde jaar met Catharina Elisabeth Swart, die weduwee van Pieter Moleman. Hy word daarmee die boer op die plaas Ganskraal aan die Sonderendrivier en was vir ’n tyd lank seinwagter vir die kanon op Tierberg.

Hy was die vader van ses kinders. Hy is omstreeks 1775 in die Suid-Kaap oorlede en is waarskynlik in die geskiedkundige kerkhof op die plaas Leeukraal by Lindeshof begrawe.

Op 24 September 2010 het die Linde-familie 'n gedenksteen vir sy nagedagtenis in hierdie kerkhof onthul.

  • Hans Jürgen se oudste kind was Hans Jürgen wat in 1759 gebore is en in 1783 te Swellendam met Johanna Maria Human getroud is. Hulle het vyf kinders gehad. Sy tweede oudste seun was Hans Jürgen en hy was die voorvader van al die Lindes in tien verskillende afdelings wat vandag as die Swellendamse Lindes bekend staan.
  • Die stamvader se tweede kind was Jacobus. Hy is in 1760 gebore en is in 1782 in die Caledon-distrik getroud met Johanna Francina Groenewald. Jacobus was ’n dapper man wat deur genl Janssens vertrou is om hom op talle militêre ekspedisies, onder andere na die grensgebied, te vergesel. As beloning vir sy dapperheid het hy die plaas De Oudekraal, waar hy aan die Sonderendrivier gaan woon het, en ’n silwerbeker met ’n inskripsie ontvang. Toe die Engelse in 1806 in Tafelbaai aankom, het Jacobus as een van die generaals van die 225 berede Swellendamse krygers die verdedigers te hulp gesnel. Toe die burgers by geleentheid voor die Engelse moes terugval, het Linde sy manne beveel om agterstevoor op hulle perde te ry om die vyand in die vlug onder die lood te kan steek. Later jare het hy aan verskeie grensoorloë deelgeneem en was tot sy tagtigste jaar hoof van die Swellendamse kommando. Hy het verskeie plase as geskenk gekry vir sy deelname aan die militêre bedrywighede. Hy is begrawe in die kerkhof op die plaas Leeukraal langs die Sonderendrivier. Jacobus het net een seun gehad wat getroud is. Dit was kommandant Jan Linde (gebore1798) wat op militêre gebied in sy vader se spore gevolg het. Hy het net een dogter gehad, Isabella Maria (Nonnie) wat in 1823 gebore is en in 1844 getroud is met Jacob Hendrik Beyers. As gevolg hiervan het die Linde-plase in Lindeshof se omgewing in die hande van die Beyers-familie beland. Talle van hulle woon en boer vandag steeds suksesvol in daardie omgewing.
  • Die stamvader se derde kind was Magdalena Helena. Sy is in 1762 gebore en in 1783 met Matthys Human getroud.
  • Sy vierde kind was Michiel Hendrik wat in 1764 gebore is en jonk oorlede is.
  • Sy vyfde kind was Nicolaas. Hy is in 1765 gebore en is in 1786 met Susanna Rebecca Uys getroud. Hulle het tien kinders gehad, waarvan vier seuns was. Drie van hulle is jonk oorlede. Net die jongste seun, Georg Fredrik, het ’n volwasse man geword. Hy is in 1804 gebore en het in 1830 met sy eerste vrou, Maria Christina Francina Steyn getrou. Hulle het agt kinders gehad. Georg Fredrik is in 1846 met Anna Magdalena Oosthuizen getroud en hulle het vier kinders gehad. Sy derde vrou was Petronella Aletta de Lange (weduwee van die befaamde genl Andries Pretorius) en hulle het vyf kinders gehad. Georg erf die plaas Tierhoek met sy pa se dood in 1836 maar kry in 1839 toestemming om die distrik Swellendam te verlaat en na Colesberg te verhuis. Later vestig hy hom as eerste eienaar op die plaas Schanskraal in die distrik Brandfort, waar hy later ook oorlede is. Hy word in 1851 tot die Wetgewende Raad verkies en was in 1854 mede-ondertekenaar van die Bloemfontein-Konvensie waardeur die Vrystaat sy onafhanklikheid gekry het.  Hy dien in die Provinsiale Regering en later in die Uitvoerende Raad. Omstreeks 1855 word hy kommandant van die burgers in die Bloemfontein-distrik en in 1856 voer hy hulle aan teen die Basoetoes na aanleiding van voortdurende strooptogte. In 1861 word hy tot lid van die Volksraad verkies en dien tot 1864, toe hy hom voltyds aan die boerdery gewy het. Die nageslag van Georg Fredrik vorm sewe afdelings wat gesamentlik as die Vrystaatse Lindes bekend staan.