Fees 02 10 tot 12 Oktober 1980 te Swellendam

Fees 2 10  tot 12 Oktober 1980 te Swellendam

Hartland van die Swellendamse Lindes

Na die geslaagde fees van die Vrystaatse Lindes in 1977 in Bloemfontein is alle oë gerig op die ander tak van die familie – die Swellendammers. Dr Hannes Linde het goed gevorder met die opstel van dié tak se geslagsregister en ’n fees op Swellendam sou die stukrag verleen vir die voltooiing van die werk en die publikasie daarvan in boekvorm.

Reëlingskomitee

Hans Linde van die Paarl (’n Leeurivierer) en sy vrou Bettie neem die leiding. Saam met hulle dien nog twee egpare: Piet en Ria Linde (Leeurivierers) en Tonie en Kobie Linde (Voorrechtsvleiers). Die langnaweek in die Oktober-skoolvakansie 1980 word gekies en Lindes van oor die hele land word uitgenooi. Die fees sal op die skouterrein in Swellendam plaasvind – sentraal vir die Lindes van die omliggende dorpe en Linde-plase soos Kliphoogte in Leeurivier, Joubertsdal, Bruintjiesrivier, Sandkraal, Voorrechtsvlei en ander.

Program

VRYDAG, 10 OKTOBER 1980

Aankoms en bekendstelling: Almal geniet die aandete met heerlike wyn verskaf deur die twee Linde-keldermeesters, Piet Linde van Bonnievale en Wilhelm Linde van Nuy, Worcester.

SATERDAG, 11 OKTOBER 1980

09:30 ’n Besoek aan die Drostdy-Museum onder leiding van Anna Rothman, dogter van die bekende skryfster MER om artikels van die Linde-voorouers te besigtig en na baie interessante vertellings te luister.

11:00 Kranslegging op die familieplaas Kliphoogte wes van Swellendam. Hans Linde van Fouriesburg lê kranse by die grafte van sy oupa en oupagrootjie wat albei die stamnaam Hans Jurie Linde gedra het. Hans se broer, Hannes Linde van Pretoria, doen die gebed.

13:00 Tradisionele middagete met onder andere waterblommetjiebredie en gebraaide soetpatats uit die rûenswêreld, afgesluk met heerlike wyn voorsien deur Piet en Wilhelm.

14:30 Hannes Linde van Johannesburg doen bedankings en lewer ’n praatjie oor die familie. Daarna word ’n aantal kompetisies gehou en pryse gewen.

16:00 Oorkondes van die Vrystaters en die Swellendammers word voorgelees en oorhandig. Org Linde van Bloemfontein oorhandig die een namens die Vrystaatse feeskomitee. Hierdie pragtige dokumente sal in die Drostdy-Museum bewaar word om die Linde-hoekie te verryk.

16:30 Foto’s word geneem deur Hans Linde van Wellington van die feesgroep as geheel en van gesinsgroepe wat teenwoordig is.

18:30 Heerlike braaivleis en boerewors met aartappels in die skil gekook met botter en wyn.

19:30 Dans, gesels en nog meer wyn. Die verrigtings verloop baie gesellig.

SONDAG, 12 OKTOBER 1980

10:00 Die oggenddiens word gelei deur Hans Linde van Wellington. Hy praat oor die boom waarvan die Lindes se van afgelei is en verbind dit met gedeeltes uit die Bybel wat beelde oor bome gebruik om boodskappe tuis te bring.

11:15 Herman Linde van Leeurivier trakteer die familie op koek en tee by die Kaapse Kombuis. Wie anders as Kotie Linde van Johannesburg (vrou van Hannes Linde) het sy arm gedraai om dit te reël?

13:00 Gesamentlike afskeidsete by die Swellengrebel-Hotel

Kenmerke van die fees

Bywoning: Die fees is bygewoon deur 107 volwassenes en kinders wat die feesboek geteken het. As die klein kindertjies bygereken word, was daar minstens 120 mense teenwoordig. Hiervan was 12 Vrystaatse Lindes wat ver gery het om die fees by te woon.

Ouderdom: Daar was Lindes van alle ouderdomme teenwoordig. Opvallend was dat daar heelwat bejaardes teenwoordig was. So was daar Susie Steyn (gebore Linde van Leeurivier) wat 97 was, Agnes Linde van Bonnievale op 85, Hans Linde van Fouriesburg en Willem Linde van Riversdal op 81, en Hans Linde van Johannesburg, Hans Linde van Fraserburg en Bettie Laubscher (gebore Linde), almal rondom 80 jaar oud. Twee Lindes het op die fees verjaar. Hans Linde van Johannesburg het 80 jaar oud geword en klein Hans Jurie Linde van Swellendam het 6 jaar oud geword.