Fees 04 13 tot 15 Januarie 1989 te Vaaldam

 

Die fees wat telkens uitgestel is

Tydens die derde Lindefees in Potchefstroom (Oktober 1982) bied die Frankforters aan dat die volgende fees by hulle gehou kan word. Die datum wat genoem word, is Oktober 1984. Die beoogde plek is die Jim Fouche-vakansieoord langs die Vaaldam. Reeds in Oktober 1983 vertel Hannes Linde, die redakteur van Linde-Nuus dat die jaar 1983 so ’n geweldige droogte in die Noord-Vrystaat meegebring het dat die fees nie ’n jaar later by die Vaaldam gehou sal kan word as dit nie binnekort sommer baie kom reën nie.

In September 1984 word gemeld dat die fees nie daardie jaar sal plaasvind nie. Dis nie net die droogte nie, maar ook die haglike ekonomiese klimaat wat die oorsaak is. In September 1985 kondig Linde-Nuus aan dat die fees moontlik in 1986 gehou gaan word. Die volgende Linde-Nuus verskyn eers in Junie 1988. Die reën het gekom! Die Vaaldam het selfs oorgeloop. Die fees word beplan vir Januarie 1989.

Reëlingskomitee

Die fees is gereël deur Nic Linde van die plaas Ararat in Frankfort se distrik en sy vrou Ria en hulle gesin.

Program

VRYDAG, 13 JANUARIE 1989

Middag: Aankoms, ontvangs en tuismaak

19:30 Gesamentlike ligte aandete, kuier en gesels, boekevat

SATERDAG, 14 JANUARIE 1989

Laatslaap vir dié wat wil, of tennis swem, perdry en so meer.

09:30 Ontbyt

Hannes Linde gesels oor die Lindes

Oorkonde oorhandig deur ds Kobie Linde

Namiddag: Vry vir ontspanning

18:30 Skaapbraai en jolyt

SONDAG, 15 JANUARIE 1989

Eie ontbyt

09:30 Erediens deur ds Kobie Linde van Potchefstroom

12:00 Ete in die restourant. Afskeid

Kenmerke van die fees

Bywoning: Dit is altyd moeilik om te sê hoeveel mense woon so ’n fees by. Nie almal is altyd op dieselfde tydstip by alles teenwoordig sodat die koppe getel kan word nie. Die organiseerders probeer boekhou, maar die syfers klop nooit mooi nie. Nic sê op sy fees was Lindes, Linde-aangetroudes en Linde-aanhangers (wat nog nie getroud is nie) almal saam 127.

Verteenwoordiging: Die Lindefeeste begin nou regtig daarin slaag om die twee hooftakke, die Swellendammers en die Vrystaters, saam te snoer. By die eerste fees in Bloemfontein in 1977 was daar net Vrystaters. Op Swellendam in 1980 was daar van die sowat 120 mense darem 12 lede van die Vrystaatse tak (10%). In 1982 te Potchefstroom was daar van die 105 feesgangers nie minder as 33 Swellendammers nie (31%). En nou op Jim Fouche in 1989 was daar weer 23 Swellendammers teenwoordig (23%). Van die kontreie was daar drie van die Swellendamse kant, naamlik 12 van Leeurivier, 9 van Bruintjiesrivier en 2 van Vryburg. Aan die Vrystaatse kant was daar 17 van Pietersdal, 11 van Kareekloof, 6 Warmfielers, 4 Schanskralers en die res (ongeveer 66) was Frankforters.

Oudste en jongste: Die oudste feesganger was ’n Frankforter, oom Ollie (George Frederik, d7e2f4, bladsy 42 van die rooi boek) wat met die fees 82 jaar, 5 maande en 23 dae jonk was. Die jongste was ’n Poolmantjie (Elsje Petronella Linde, d7e2f2g4, bladsy 41 van die rooi boek) – ook ’n Frankforter.

Aandenkings: Elke huisgesin het by aankoms ’n netjiese feesprogram ontvang met ’n bondwapen voorop en ’n groen strikkie aan – een van die hoofkleure van die wapen. Die saal was netjies versier met die geregistreerde Linde-familiewapens en voorbeelde van ons Lindebondswapen. As aandenkings was daar ook wynglase, koeldrankglase en bierbekers met die bondswapen en feesdatum daarop te koop. Elke botteltjie bier het ’n etiket op gehad om te wys dit was egte Lindeplesier.