Nuut op die webwerf

31 Aug

Op 17 Januarie 2011 is die erepresident van die Lindebond, dr Hannes Linde van Johannesburg, oorlede. Ons meegevoel met sy eggenote Charlotte en sy kinders Johan, Elsabé, Sunette en Piet en hulle egmaats en kinders.

Die Lindebond is groot dank aan Hannes verskuldig. Hy het oor baie jare groot werk gedoen om die geslagsregister van die Afrikaanse Lindes op te stel. Daar het twee boeke uit sy pen verskyn wat vandag nog die basis vorm van die Linde-register - die eerste in 1980 oor die Vrystaatse Lindes en die tweede in 1984 oor die Swellendamse Lindes.

Hannes was ook die uitgewer van die eerste 25 uitgawes van Linde-Nuus en die eerste voorsitter van die Lindebond. Ná sy uittrede in 2002 het hy die eerste erepresident van die Lindebond geword.

Dit was gepas dat hy op 24 September 2010 kon deelneem aan die onthulling van die gedenksteen ter herinnering aan die stamvader van die Lindes in Suid-Afrika in die historiese Leeukraal-kerkhof by Lindeshof in die Suid-Kaap. Dit was nog een van sy groot ideale vir die Linde-familie. Ons eer sy nagedagtenis.

11 Aug

Linde-Nuus 55 is in Desember 2012 aan 149 posadresse en aan 179 epos-adresse gestuur. Dit bevat besonderhede en foto's van die Linde wat as beesboer van die jaar in SA aangewys is, Berrie en Hermine Linde se besoek aan Hagsfeld in Duitsland, 'n kuier by die Fouries van Verkeerdevlei en baie ander nuus van die Linde-familie.

As jy dit nie ontvang het nie en dit graag wil lees, stuur asseblief jou epos-adres aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. .

11 Aug

Freda Linde, bekende skryfster van kinder- en jeugboeke, is op 7 Maart 2013 in die ouderdom van 94 in Kaapstad oorlede. Sy was 'n Bruintjiesrivierse Linde uit die Swellendam-distrik.

Freda het reeds op heel jeugdige ouderdom begin skryf. Sy het in Middelrivier, Worcester en Kaapstad skoolgegaan. Sy tree op as redaktrise van Die Huisvrou en later as redaktrise vir twee welbekende uitgewers. Sedert 1971 lewer sy werk as vryskutskryfster. Sedert 1964 het sy sewe toekennings vir haar kinderboeke ontvang. Haar bekendste boek is Die singende gras waarvoor sy die Scheepersprys en die JH Hofmeyrprys ontvang het. Sy het in Kaapstad gewoon en in haar loopbaan twee bundels essays en minstens agtien kinder- en jeugboeke die lig laat sien.

09 Aug

Dit was 'n geleentheid wat mens lank sal onthou. Op 24 September 2010 het meer as sestig Lindes by Lindeshof bymekaargekom om 'n gedenksteen vir die Lindes se stamvader te onthul. Hans Jürgen Linde het in 1753 in die Kaap aangekom. Hy is in 1758 getroud met Catharina Elisabeth Swart (weduwee Moleman) en het vir sewentien jaar op die plaas Ganskraal geboer. Hulle het ses kinders gehad, waarvan vier seuns was. Uit twee van hierdie seuns het die Linde-nageslag gestam: die Swellendamse Lindes uit Hans Jürgen, die oudste seun, en die Vrystaatse Lindes uit Nicolaas, die jongste seun. Die tweede oudste seun, kommandant Jacobus Linde, se nageslag is die Beyers-familie wat vandag nog met groot sukses by Lindeshof boer.

Die onthulling is gedoen deur Johann Linde van die Strand (namens die Swellendamse Lindes) en Hannes Linde van Johannesburg (namens die Vrystaatse Lindes). Daarna het Annatjie Fourie van Verkeerdevlei die bewoording van die steen voorgelees en Bessie Linde van Hertzogville het 'n krans by die steen gelê. Die teenwoordiges het die geleentheid gekry om elkeen 'n bos van die pragtigste veldblomme uit die omgewing op die graf te plaas.

Na 'n heerlike middagete het die feesgangers die plaas Ganskraal besoek. Die huidige eienaar, Johann Beyers van Stellenbosch, het die geskiedenis van die plaas vertel en toe die fondamentklippe en oorblyfsels uitgewys waar die stamvader twee en 'n halwe eeu gelede werklik gewoon het.

Hans Jürgen was ook die eerste seinwagter van die seinkanon wat in 1759 op Kleinberg by die huidige Riviersonderend opgerig is. Dit was een van 'n hele reeks kanonne wat die plaaslike inwoners moes waarsku en oproep as die Kaap aangeval  is, soos werklik in 1795 en 1806 met die twee invalle van die Engelse gebeur het. Later die middag het die feesgangers daar vergader en beleef hoe drie skote vir die eerste keer in honderd en vyftig jaar daar afgevuur word. Basie Linde van Brandfort het die tweede skoot namens die Linde-familie afgevuur.

Die volgende dag is 'n besoek gebring aan die Drostdy-Museum op Swellendam waar heelwat artikels uitgestal word wat met die Linde-familie verband hou. Die middag het die feesgangers die Lindeplase Kliphoogte en Joubertsdal besoek en 'n deel van die familie se geskiedenis herleef.

09 Aug

Daar is 'n Facebook-blad waar die Lindes met mekaar gesels. Die naam is "Lindebond Suid-Afrika". Alle belangstellendes is welkom om daarby in te skakel. As jy nie self kan inskakel nie, gaan na die rubriek "Kontak" op die linker-kieslys van hierdie webwerf en meld jou epos-adres in 'n boodskap aan die webmeester. Dan sal jy 'n uitnodiging ontvang om by die FB-blad in te skakel.

09 Aug

Linde-Nuus 48 van Junie 2010 het pas verskyn. Lees dit by Linde-Nuus op die kieslys links. Dit word gestuur aan almal wie se epos-adresse in die Lindebond se besit is. Dit word ook per landpos gepos aan meer as 150 adresse. Lekker lees! As jy dit ook per e-pos wil ontvang, gaan na Kontak op die kieslys links en gee jou epos-adres aan die webmeester deur.

09 Aug

Die bykomende gegewens van die Kareeklowers onder die Vrystaatse Lindes is pas nuut in die Linde-register bygevoeg. Dis nogal 'n groot klomp inligting. 'n Totaal van 757 persone is nou opgeneem - meer as dubbeld soveel as die 373 persone wat in die rooi boek van 1980 verskyn het. Die Kareeklowers is los hande die grootste familiegroep van die Lindes. Tweede kom die Kluitjieskralers van die Swellendamse Lindes met 327 persone in die register. Klik links op Geslagsregister, dan op Vrystaatse Lindes en dan op Kareeklowers om die nuwe inligting te bekyk.

15 Jul

Dit het onder my aandag gekom dat daar mense is wat nie die ontwerp sien as hulle op die webwerf  is nie. As dit die geval is, kan die volgende sleutels saam gedruk work om te kyk of dit regkom. Die sleutels is "Ctrl + F5". As dit nie werk nie, kan die "Browser Cache" ook skoongemaak word. Die probleem kom soms voor by gebruikers wat Firefox of Google Chrome as weblesers gebruik. Skakel oor na Windows Internet Explorer en die probleem behoort opgelos te wees.

17 Mei

Die jongste beskikbare inligting van die Paradysers, Dealesvillers en Frankforters (drie Linde-groepe uit die Vrystaatse Lindes) is op 4 Junie 2010 bygewerk. Klik links op Geslagsregister, dan op Vrystaatse Lindes en dan op een van hierdie drie groepe om die inligting te bekyk. Stel sommer vas of jou gegewens korrek en op datum is.