09 Aug

GEDENKSTEEN VIR STAMVADER OP ERFENISDAG 2010 ONTHUL

Geskryf deur 

Dit was 'n geleentheid wat mens lank sal onthou. Op 24 September 2010 het meer as sestig Lindes by Lindeshof bymekaargekom om 'n gedenksteen vir die Lindes se stamvader te onthul. Hans Jürgen Linde het in 1753 in die Kaap aangekom. Hy is in 1758 getroud met Catharina Elisabeth Swart (weduwee Moleman) en het vir sewentien jaar op die plaas Ganskraal geboer. Hulle het ses kinders gehad, waarvan vier seuns was. Uit twee van hierdie seuns het die Linde-nageslag gestam: die Swellendamse Lindes uit Hans Jürgen, die oudste seun, en die Vrystaatse Lindes uit Nicolaas, die jongste seun. Die tweede oudste seun, kommandant Jacobus Linde, se nageslag is die Beyers-familie wat vandag nog met groot sukses by Lindeshof boer.

Die onthulling is gedoen deur Johann Linde van die Strand (namens die Swellendamse Lindes) en Hannes Linde van Johannesburg (namens die Vrystaatse Lindes). Daarna het Annatjie Fourie van Verkeerdevlei die bewoording van die steen voorgelees en Bessie Linde van Hertzogville het 'n krans by die steen gelê. Die teenwoordiges het die geleentheid gekry om elkeen 'n bos van die pragtigste veldblomme uit die omgewing op die graf te plaas.

Na 'n heerlike middagete het die feesgangers die plaas Ganskraal besoek. Die huidige eienaar, Johann Beyers van Stellenbosch, het die geskiedenis van die plaas vertel en toe die fondamentklippe en oorblyfsels uitgewys waar die stamvader twee en 'n halwe eeu gelede werklik gewoon het.

Hans Jürgen was ook die eerste seinwagter van die seinkanon wat in 1759 op Kleinberg by die huidige Riviersonderend opgerig is. Dit was een van 'n hele reeks kanonne wat die plaaslike inwoners moes waarsku en oproep as die Kaap aangeval  is, soos werklik in 1795 en 1806 met die twee invalle van die Engelse gebeur het. Later die middag het die feesgangers daar vergader en beleef hoe drie skote vir die eerste keer in honderd en vyftig jaar daar afgevuur word. Basie Linde van Brandfort het die tweede skoot namens die Linde-familie afgevuur.

Die volgende dag is 'n besoek gebring aan die Drostdy-Museum op Swellendam waar heelwat artikels uitgestal word wat met die Linde-familie verband hou. Die middag het die feesgangers die Lindeplase Kliphoogte en Joubertsdal besoek en 'n deel van die familie se geskiedenis herleef.

Last modified on Saterdag, 08 Junie 2013 23:00