Op 17 Januarie 2011 is die erepresident van die Lindebond, dr Hannes Linde van Johannesburg, oorlede. Ons meegevoel met sy eggenote Charlotte en sy kinders Johan, Elsabé, Sunette en Piet en hulle egmaats en kinders.

Die Lindebond is groot dank aan Hannes verskuldig. Hy het oor baie jare groot werk gedoen om die geslagsregister van die Afrikaanse Lindes op te stel. Daar het twee boeke uit sy pen verskyn wat vandag nog die basis vorm van die Linde-register - die eerste in 1980 oor die Vrystaatse Lindes en die tweede in 1984 oor die Swellendamse Lindes.

Hannes was ook die uitgewer van die eerste 25 uitgawes van Linde-Nuus en die eerste voorsitter van die Lindebond. Ná sy uittrede in 2002 het hy die eerste erepresident van die Lindebond geword.

Dit was gepas dat hy op 24 September 2010 kon deelneem aan die onthulling van die gedenksteen ter herinnering aan die stamvader van die Lindes in Suid-Afrika in die historiese Leeukraal-kerkhof by Lindeshof in die Suid-Kaap. Dit was nog een van sy groot ideale vir die Linde-familie. Ons eer sy nagedagtenis.

Linde-Nuus 55 is in Desember 2012 aan 149 posadresse en aan 179 epos-adresse gestuur. Dit bevat besonderhede en foto's van die Linde wat as beesboer van die jaar in SA aangewys is, Berrie en Hermine Linde se besoek aan Hagsfeld in Duitsland, 'n kuier by die Fouries van Verkeerdevlei en baie ander nuus van die Linde-familie.

As jy dit nie ontvang het nie en dit graag wil lees, stuur asseblief jou epos-adres aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. .

Freda Linde, bekende skryfster van kinder- en jeugboeke, is op 7 Maart 2013 in die ouderdom van 94 in Kaapstad oorlede. Sy was 'n Bruintjiesrivierse Linde uit die Swellendam-distrik.

Freda het reeds op heel jeugdige ouderdom begin skryf. Sy het in Middelrivier, Worcester en Kaapstad skoolgegaan. Sy tree op as redaktrise van Die Huisvrou en later as redaktrise vir twee welbekende uitgewers. Sedert 1971 lewer sy werk as vryskutskryfster. Sedert 1964 het sy sewe toekennings vir haar kinderboeke ontvang. Haar bekendste boek is Die singende gras waarvoor sy die Scheepersprys en die JH Hofmeyrprys ontvang het. Sy het in Kaapstad gewoon en in haar loopbaan twee bundels essays en minstens agtien kinder- en jeugboeke die lig laat sien.