Belangrike Linde-datums

1730    Op 21 September word die stamvader van die Suid-Afrikaanse Lindes, Hans Jürgen Linde(n) in Hagsfeld, Durlach (naby Karlsruhe) in Suid-Duitsland gebore. Drie dae later word hy in die Laurentius-kerk daar gedoop.

1753    Hans Jürgen Linde besluit om op 23-jarige ouderdom na Suid-Afrika te verhuis. Talle jongmense het in daardie jare weens die swak ekonomiese vooruitsigte in Europa besluit om na een van die kolonies uit te wyk. Hy pak die reis as soldaat in diens van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie in die skip Leijden aan en bring ’n groot en swaar leergebonde Duitse Bybel met hom saam. In die Kaap word hy in 1754 wamaker en in 1757 plaasarbeider.

1758    Hans Jürgen Linde verhuis na die Overberg en tree op 5 November 1758 in die huwelik met Catharina Elisabeth Swart (weduwee van Pieter Moleman), eienaar van die plaas Ganskraal by die latere Lindeshof tussen Greyton en Riviersonderend. Hy boer daar vir 17 jaar en tree op as seinwagter van die kanon op Tierberg. Die egpaar het ses kinders gehad, vier seuns en twee dogters.

1806    Die stamvader se tweede seun, Jacobus Linde, was ’n dapper man wat deur genl Janssens vertrou is om hom op talle militêre ekspedisies, onder andere na die grensgebied, te vergesel. As beloning vir sy dapperheid het hy die plaas De Oudekraal, waar hy aan die Sonderendrivier gaan woon het, en ’n silwerbeker met ’n inskripsie ontvang. Toe die Engelse in 1806 in Tafelbaai aankom, het Jacobus as een van die generaals van die 225 berede Swellendamse krygers die verdedigers te hulp gesnel. Toe die burgers by geleentheid voor die Engelse moes terugval, het Linde sy manne beveel om agterstevoor op hulle perde te ry om die vyand in die vlug onder die lood te kan steek. Later jare het hy aan verskeie grensoorloë deelgeneem en was tot sy tagtigste jaar hoof van die Swellendamse kommando. Hy het verskeie plase as geskenk gekry vir sy deelname aan die militêre bedrywighede. Hy is begrawe in die kerkhof op die plaas Leeukraal langs die Sonderendrivier.

1812    Op 8 Junie 1812 word Hans Jurie Linde op Swellendam gebore (die naam Jürgen het in die volksmond Jurie geword). Hy was ’n agterkleinseun van die stamvader en het op die plaas Joubertsdal wes  van Swellendam geboer. Die egpaar het tien kinders gehad waarvan sewe seuns die stamvaders geword het van sewe van die onderafdelings van die Swellendamse Lindes. Nog drie afdelings stam uit drie van sy broers.

1839    Georg Fredrik Linde, seun van die stamvader se vyfde kind Nicolaas, erf die plaas Tierhoek met sy pa se dood in 1836, maar kry in 1839 toestemming om die distrik Swellendam te verlaat en na Colesberg te verhuis. Later vestig hy hom as die eerste eienaar op die plaas Schanskraal in die distrik Brandfort en speel ’n belangrike rol in die geskiedenis en regering van die Vrystaatse Republiek. Hy het agtereenvolgens drie vroue en sewentien kinders gehad en was die stamvader van die Vrystaatse Lindes, wat verreweg die talrykste van die twee Linde-takke geword het.

1846    Kommandant Jacobus Linde se seun Jan het in die voetspore van sy pa gevolg en as kommandant die burgers van Swellendam in 1846/1847 in die Oorlog van die Byl teen die opperhoofde Pato en Kreli aangevoer. Hy het in 1849 as kommandant bedank en is deur Sir Harry Smith as vrederegter aangestel. Hy het ’n aantal plase langs die Sonderendrivier as vergoeding ontvang en die omgewing is as gevolg daarvan Lindeshof genoem. Hy is begrawe in die ou familiekerkhof op Leeukraal, Lindeshof.

1851    Georg Fredrik Linde word in 1851 tot die Wetgewende Raad van die Vrystaatse Republiek verkies en was in 1854 mede-ondertekenaar van die Bloemfontein-Konvensie waardeur die Vrystaat sy onafhanklikheid gekry het.  Hy dien in die provinsiale regering en later in die Uitvoerende Raad. Omstreeks 1855 word hy kommandant van die burgers in die Bloemfontein-distrik en in 1856 voer hy hulle aan teen die Basoetoes na aanleiding van voortdurende strooptogte. In 1861 word hy tot lid van die Volksraad verkies en dien tot 1864, toe hy hom voltyds aan die boerdery gewy het.

1902    Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het die Vrystaatse Lindes groot smart beleef. ’n Hele aantal Linde-mans is gevange geneem en as krygsgevangenes na St Helena weggevoer. En talle vroue en kinders is in konsentrasiekampe aangehou. In die gedenkmuur by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein verskyn die name van elf vroue en kinders met die van Linde wat in dié kampe die lewe gelaat het.

1961    Op 10 Julie word die oorskot van Org, die Vrystaatse stamvader, twee van sy vroue (Petronella Aletta en Anna Magdalena) en een van sy seuns en dié se vrou (Roelof Jacobus en Andriatha Wilhelmina Jacoba) in die kerkhof op Brandfort herbegrawe. Dit het gebeur omdat die familiegrafte op die plaas Schanskraal aan verwaarlosing blootgestel is. Hierdie gebeurtenis het ’n groot rol daarin gespeel om ’n familie-bewustheid by die Lindes in die Vrystaat wakker te maak. Dr Hannes Linde, ’n jong geoloog van Johannesburg, word gevra om by die herbegrafnis namens die Linde-jeug ’n paar woorde te sê. Dit het tot sy familie-navorsing gelei waarvan al die Lindes tot vandag toe die vrugte pluk.

1977    Die eerste Linde-fees word 3-4 September 1977 te Maselspoort naby Bloemfontein gehou. Die doel was om die Lindes bekend te stel aan die vordering wat dr Hannes Linde met die Linde-navorsing gemaak het en om reëlings te tref vir die pad vorentoe. Daar was 205 volwassenes teenwoordig en saam met die kinders word beraam dat tot 360 persone deelgeneem het. Die feesgangers dra by sodat ’n eie bondswapen vir die Lindes ontwikkel kan word en die Linde-register sover moontlik uitgebrei kan word.

1980    Dr Hannes Linde publiseer die eerste van twee boeke met die Linde-register onder die titel “Geslagsregister van Georg Fredrik Linde”. Dit bevat ook ’n afbeelding van die amptelike bondswapen wat deur die Buro vir Heraldiek goedgekeur is, ’n verslag oor die navorsing wat in Europa en Suid-Afrika oor die Linde-familie gedoen is, ’n beskrywing van die herbegrafnis van Lindes in 1961 en die stand van die Linde-register van die Vrystaatse Lindes met staaltjies en foto’s wat die familiegeskiedenis ophelder.

1980    Die tweede Lindefees word 10-12 Oktober 1980 in Swellendam gehou. Dr Hannes Linde het goed gevorder met die opstel van dié tak se geslagsregister en ’n fees op Swellendam sou die stukrag verleen vir die voltooiing van die werk en die publikasie daarvan in boekvorm. Die fees is bygewoon deur 107 volwassenes en kinders wat die feesboek geteken het. As die klein kindertjies bygereken word, was daar minstens 120 mense teenwoordig. Hiervan was 12 Vrystaatse Lindes wat ver gery het om die fees by te woon. Van die hoogtepunte was ’n besoek aan die Linde-plaas Kliphoogte en aan die Drostdy-Museum op Swellendam. Dr Hannes Linde gee verslag dat hy vier uitgawes van Linde-Nuus tot op datum uitgestuur het.

1982    Die derde Lindefees word 1-3 Oktober 1982 te Potchefstroom gehou. Volgens die feesboek was daar 87 persone teenwoordig. Vir die eerste keer was daar ’n goeie balans tussen Vrystaatse en Swellendamse Lindes. Die saamtrek is gehou by die dam aan die noordekant van die dorp waar feesgangers verblyf kon kry in rondawels, huisies en hulle eie woonwaens. Alles was heel gerieflik en puik georganiseer. Sedert die vorige fees is ’n verdere vier uitgawes van Linde-Nuus uitgestuur.

1984    Dr Hannes Linde publiseer die tweede boek oor die Lindes met die titel “Geslagsregister van Hans Jürgen Linde”. Dit bevat besonderhede oor verdere navorsing oor die familie in Europa en Suid-Afrika, volledige inligting oor die fees van 1980 in Swellendam en die huidige stand van die stamregister van die Swellendamse Lindes opgehelder met foto’s en staaltjies uit die geskiedenis van die familie.

1989    Die vierde Lindefees word 13-15 Januarie 1989 by die Jim Fouché-vakansie-oord by die Vaaldam gehou. Dit word gereël deur die Frankforters van die Vrystaatse Lindes onder leiding van Nic en Ria Linde. Dit word deur 127 persone bygewoon waarvan driekwart van die Vrystaatse Lindes was. Die saal was netjies versier met die geregistreerde Linde-familiewapens en voorbeelde van ons Linde-bondswapen. As aandenkings was daar ook wynglase, koeldrankglase en bierbekers met die bondswapen en feesdatum daarop te koop. Sedert die fees in 1982 het dr Hannes Linde sewe uitgawes van Linde-Nuus die lig laat sien.

1991    Die vyfde Lindefees word 27-29 September 1991 te Wellington gehou. Dit word gereël deur ds Hans Linde en sy gesin op die terrein van die Hugenote-Kollege. Daar was 53 feesgangers teenwoordig. Tydens die Linde-vergadering is die Grondreëls van die Linde-familiebond bespreek en aanvaar en ’n komitee is verkies. Voorsitter: Hannes Linde van Johannesburg, sekretaris: Hans Linde van Wellington, Nic Linde (Frankfortse tak) en Wilhelm Linde (Bruintjiesrivierse tak). Tydens die fees is ’n oorkonde aan Hannes Linde en sy vrou Kotie oorhandig om dankie te sê vir die maande se harde werk wat hy ingesit het om die geslagsregisters van die Lindes saam te stel.

1993    Die sesde Lindefees word 24-26 September 1993 te Maselspoort oos van Bloemfontein gehou. ’n Totaal van 211 persone het die bywoningsregister geteken. Gerhard en Anna Linder van Hagsfeld in Duitsland het die fees as gaste van die voorsitter, dr Hannes Linde van Johannesburg, bygewoon. Met sy ondersoek oor die herkoms van die Lindes se stamvader in Duitsland het hy by hulle uitgekom as mense wat uit dieselfde familie stam. Dr Hannes Linde het tydens die fees gerapporteer dat bykans al die doelstellings van die eerste Linde-fees in 1977 reeds bereik is. Tot op datum het 20 uitgawes van Linde-Nuus uit dr Hannes Linde se pen verskyn.

1995    Die sewende Lindefees word 22-24 September 1995 te Mount Amanzi naby Brits gehou. Daar was 90 feesgangers teenwoordig. Ds Kobie Linde en sy vrou Engela het die leiding geneem om hierdie fees te reël. Hulle is bygestaan deur hulle kinders, veral Nap en Louise Mayer, en deur Sunette Botha en Elsabe Kromhout. Dr Hannes Linde, voorsitter van die Lindebond, het op sy kenmerkende en kundige manier ’n uiteensetting van die geskiedenis van die familie en die sake van die Lindebond gegee en almal gehelp om hulle plek in die familie-register te vind.

1998    Die agtste Lindefees word 18-20 September 1998 te Kliphoogte, Swellendam gehou en is deur 46 persone bygewoon. Die bymekaarkomplek was die rugbyklubsaal in Kerkstraat, Swellendam. Die feesprogram sou ook ’n besoek insluit aan die plaas Kliphoogte wat al vir meer as ’n eeu en ’n half in die Linde-familie se besit is. Mareta Linde, weduwee van Frederik Jacobus Linde, boer tans op die plaas en het ’n belangrike rol gespeel om die fees te reël. Die besoek aan die ou kerkhof langs die ou Kaapse wapad tussen Riviersonderend en Greyton was iets besonders. Hier is die driedubbele graf waar kommandante Jacobus en Jan Linde en hulle eggenotes begrawe lê. Dr Hannes Linde het sy navorsing uiteengesit wat daarop dui dat Hans Jürgen Linde, al die Lindes se stamvader, ook saam met sy eggenote daar begrawe is.

2002    Die negende Lindefees word 28-29 September 2002 te Mooigenoeg, Bloemfontein gehou. Altesaam 96 Lindes en Linde-verwantes het die fees bygewoon. Daar was 77 Vrystaters en 19 Swellendammers by hierdie Vrystaatse fees. Dr Hannes Linde  het uitgetree as voorsitter van die familiebond en is by die fees as erepresident aangewys. Hy het die familie-navorsing aangepak en uiteindelik op eie koste twee boeke daaroor uitgegee. Hy het die Lindebond daargestel en vir 22 jaar die leiding geneem. Hy het die eerste 25 uitgawes van Linde-Nuus geskryf en versprei. Hy het die Linde-bondswapen laat ontwerp en geregistreer. En hy was die dryfkrag agter die eerste agt Lindefeeste. Voorwaar ’n kragtige en inspirerende bydrae tot die Lindes se familiegeskiedenis. Ds Hans Linde van Wellington word tot voorsitter verkies.

2005    Die tiende Lindefees word 23-25 September 2005 te Brandfort gehou. Die Vrystaters het  aangebied om dit in die Emily Hobhouse-koshuis van die Hoërskool Staatspresident CR Swart te hou. Die reëlingskomitee het onder leiding gestaan van Piet Coetzer en hy is bygestaan deur talle gewillige helpers uit die Vrystaatse Lindes. Die fees is deur 120 persone bygewoon. Hoogtepunte van die fees was die besoek aan die Linde-plaas Schanskraal en aan die begraafplaas van Brandfort waar die Vrystaatse stamvader en sy gesin herbegrawe is. Sedert die vorige fees in 2002 het vyf uitgawes van Linde-Nuus verskyn. Dit is per landpos aan gemiddeld 195 adresse gepos.

2009    Die elfde Lindefees word 25-27 September 2009 te Stone Safari’s, Brandfort gehou. Daar was 55 persone by die fees. Die gasteplaas met sy wildritte het goeie geleentheid gebied om mekaar beter te leer ken en heerlik te gesels. Die erepresident, dr Hannes Linde, se 80ste verjaarsdag is daar gevier. Die voorsitter rapporteer dat die Lindefonds tot meer as R16 000 aangegroei het en dat ’n nuwe webwerf vir die familie gevestig is. Sedert die vorige fees het elf uitgawes van Linde-Nuus verskyn.

2010    Die twaalfde Lindefees word 24-25 September 2010 te Lindeshof en Swellendam gehou. Die fees is deur 68 persone bygewoon. Die doel van die fees was die onthulling van die gedenksteen vir die stamvader, Hans Jürgen Linde, presies 280 jaar na sy geboorte. Ander hoogtepunte was die besoek aan die plaas Ganskraal waar die stamvader gewoon het, die heringebruikneming van Kleinberg se kanon en besoeke aan die Drostdy-Museum en Linde-plase Kliphoogte en Joubertsdal naby Swellendam.

2013    Die dertiende Lindefees word 20-22 September 2013 te Florisbad gehou. Amper ’n honderd feesgangers het die fees bygewoon. Tydens die fees is ’n sertifikaat van erkenning aan ds Hans Linde van Wellington oorhandig. Hy is voorsitter van die Lindebond van 2002 af en het ook as redakteur opgetree van 32 uitgawes van Linde-Nuus van 2000 tot op datum. Die Lindefonds het aangegroei tot R29 000, die inskrywings in die Linde-register het sedert die verskyning van dr Hannes Linde se boeke amper verdubbel tot 3 607 persone, daar is ’n Facebook-blad vir die Lindes geopen en ’n verdere twaalf uitgawes van Linde-Nuus het sedert die vorige fees verskyn en word nou in groter getalle elektronies versprei.

2017    Die veertiende Lindefees word 6-8 Oktober 1998 te Florisbad gehou. Die fees is deur 76 persone bygewoon. Tydens die fees is Derik Linde van Kemptonpark as die nuwe voorsitter van die Lindebond verkies. Hy volg Hans Linde van Wellington op wat vir vyftien jaar as voorsitter opgetree het. Hans is steeds lid van die komitee en dien as sekretaris/penningmeester. Die komitee is ook vergroot tot agt lede om meer jonger Lindes te betrek. Die fonds het gegroei tot R37 000, die register bevat nou 3 970 persone, die kontak-kanale het gegroei tot 329 epos-adresse en 236 lede van die Facebook-blad en daarby ontvang 62 persone steeds die Linde-Nuus per landpos. Dit beteken dat die Linde-familie een van die aktiefste familiegroepe in die land is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

fifteen − ten =