Fees 1: 3 tot 4 September 1977 te Maselspoort
1. Hartland van die Vrystaatse Lindes
Die eerste Linde-fees is op Maselspoort gehou – ’n vakansie-oord net oos van Bloemfontein. Dit bied nie net goeie ontspanningsgeriewe en gerieflike oornagplek nie, maar is ook baie sentraal geleë vir die grootste groep van Lindes in Suid-Afrika, die Vrystaatse Lindes. Hulle oorsprong lê rondom die plaas Schanskraal, die oorspronklike plaas van die stamvader van die Vrystaatse Lindes, Georg Fredrik Linde. Schanskraal is skaars 20 kilometer oos van Maselspoort langs die Osspruit geleë. En dan daarvandaan verder baie bekende plase van die Lindes soos Wardenfield, Enkeldoorn, Kareekloof, Pietersdal, Cyfergat, Mooihoek en ander wat al langs die Osspruit lê. Die Vrystaatse Lindes het dan ook vroeër bekend gestaan as die “Osspruiters”
2. Reëlingskomitee
In Januarie 1977 het ’n kernkomitee van drie lede bymekaargekom om die fees te begin reël. Die voorsitter was Albert Linde (’n Pietersdaler) en die ander twee lede was Piet Linde en Peet van Heerden (albei Warmfielers). Later is nog nege lede bygevoeg, wat vier vertakkings van die Vrystaatse Lindes verteenwoordig het. Die fees is deur omsendbriewe bekend gestel en soveel moontlik Lindes is van oor die hele land uitgenooi.
3. Program
SATERDAG, 3 SEPTEMBER 1977
10:00 Kennis maak
12:30 Ligte middagete. Ds Frans Erasmus, ’n familielid van Lichtenburg, doen die tafelgebed
15:00 Skriflesing en gebed deur dr Carel Lombaard, ’n familielid van Quellerina
Verwelkoming deur die seremoniemeester, mnr Hannes Linde van Florida
Die seremoniemeester gesels oor die Linde-stamboom
Voordrag deur mev Andriesa Heys van Brandfort: daardie groot verwelkomingstorie van Jan Spies
Openingsrede deur mnr Hendrik van Wyk LPR, ’n familielid van Ventersburg
Praatjie oor verskeie wanbegrippe oor familiewapens deur die seremoniemeester
Familiepraatjie deur mnr Douw Linde van Excelsior
17:00 Die biertuin open – elke belangstellende koop ’n bierglas as aandenking en kry die glas vol gratis bier
’n Groot aptyt word ontwikkel vir die osbraai wat sou volg
18:00 Osbraai
20:00 Dans
SONDAG, 4 SEPTEMBER 1977
08:00 Oggendtee
09:00 Opelugdiens deur ds Kobie Linde van Potchefstroom
Afsluiting van die fees
4. Kenmerke van die fees
Bywoning: Altesaam 205 volwassenes het die feesboek geteken. Saam met die kinders was daar na berekening 360 feesgangers.
Stamboom: Die geslagsregister van die Lindes was net bekend tot in die vierde geslag. Die feesgangers het die gedagte ondersteun dat dit ontwikkel word tot in die hede. Volgens berekening het die Lindes in daardie stadium tot in die negende geslag gestrek.
Linde-Bondswapen: Die feesgangers dra by om fondse bymekaar te maak vir die ontwikkeling en registrasie van ’n eie Linde-Bondswapen. Afsonderlike gesinswapens kan dan later deur gesinne daaruit ontwikkel word.
Grootste fees: Hierdie eerste Lindefees was groter, wat bywoningsgetalle betref, as al die Lindefeeste wat in later jare gehou sou word. Alle eer aan die feeskomitee wat hulle baie goed van hulle taak gekwyt het en ’n fees gereël het wat die aanwesiges nog vir baie jare met vreugde sou onthou.