September 2005

Fees 10: 23 tot 25 September 2005 te Brandfort

1. Die eerste Lindefees by Brandfort

Die Vrystaters het weer lus gehad om fees te vier en aangebied om dit in die Emily Hobhouse-koshuis van die Hoërskool Staatspresident CR Swart te hou. Die reëlingskomitee het weer onder leiding gestaan van Piet Coetzer en hy is bygestaan deur talle gewillige helpers uit die Vrystaatse Lindes.

2. Program

VRYDAG, 23 SEPTEMBER 2005

16:00   Aankoms en registrasie

18:00   Ligte aandete en kenmekaar

SATERDAG, 24 SEPTEMBER 2005

08:00   Aankoms en registrasie van dagbesoekers

10:00   Opening en verwelkoming

10:30   Midontbyt

12:00   Besoek Linde-grafte in die begraafplaas in Brandfort en die geskiedkundige plaas Schanskraal

16:00   Middagkoffie en Linde-vergadering

17:00   Spitbraai gevolg deur dans en gesellige saamwees

SONDAG, 25 SEPTEMBER 2005

07:00   Koffie en beskuit

09:30   Erediens gelei deur ds Hans Linde van Wellington

11:00   Afskeidstee, bedankings en groet

3. Kenmerke van die fees

Bywoning: Die fees is deur 120 persone bygewoon. In die hartjie van die Vrystaat was die Vrystaters natuurlik in die meerderheid, maar daar was ’n aantal Swellendammers om die prentjie te voltooi. Van die feesgangers het van ver af gekom, uit Mpumalanga, die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Noordwes en Gauteng.

Gesellige atmosfeer: Die feit dat baie feesgangers saam op dieselfde terrein gebly het, het ’n baie goeie groepgees verseker. Die groep was ook net groot genoeg dat almal met almal kontak kon hê en lekker kon gesels. Die gebruiklike spitbraai deur Basie Linde en die aand se dans en saamkuier het ook tot die heerlike en gesellige atmosfeer bygedra.

Besoek aan die begraafplaas op Brandfort: Soos Hannes Linde in sy boek oor die Vrystaatse Lindes vertel, het van die ou Linde-grafte op Schanskraal erg verwaarloos geraak. In 1961 is vyf Lindes in hierdie begraafplaas herbegrawe. Dit was die Vrystaatse stamvader, Georg Fredrik Linde, sy vroue Petronella Aletta en Anna Magdalena en sy tiende kind Roelf Linde en sy vrou Andriatta. Dit was aangrypend om hierdie en ander grafte te besoek. Hannes het onderhoudend vertel van die gebeure en al die teenwoordiges gehelp om die familiebande te verstaan.

Besoek aan die plaas Schanskraal: Die plaas Schanskraal lê langs die Osspruit tussen Bloemfontein en Winburg. Dit was die plaas waar die Vrystaatse stamvader hom in die Vrystaat kom vestig het en waar hy tot met sy dood in 1877 gewoon het. Die lewendige vertellings van Hannes Linde en Piet (Glen) Linde, aan wie die plaas tans behoort, het die geskiedenis nuwe lewe gegee.

Erediens Sondagoggend: Ds Hans Linde van Wellington het gelees uit Josua 4:15-24 en Psalm 78:1-7. Albei gedeeltes gaan oor “Here-stories” wat vertel is om die hoorders van die teenwoordigheid en werk van die Here God bewus te maak. Ons Lindes kan ook uit ons geskiedenis en uit ons daaglikse lewe “Here-stories” vertel. Die Here seën ons met soveel goeie dinge en ons word geroep om daarvan te vertel waar ons ook al kom.

4. Vordering met die Lindebond se sake

Lindefonds: Die voorsitter doen verslag dat die Lindefonds sedert die vorige Lindefees gegroei het van R6 100.29 tot R8 712.13. Dit verteenwoordig ’n groei van gemiddeld 12.62% per jaar. Die feesgangers bedank almal wat tot die fonds bygedra het.

Linde-Nuus: Sedert die vorige fees in 2002 het vyf uitgawes van Linde-Nuus verskyn. Dit is per landpos aan gemiddeld 195 adresse gepos. Dit het baie daartoe bygedra om kontak tussen die Lindes te bewerk.

Annatjie Fourie verwelkom die feesgangers namens die reëlingskomitee.

Die besoek aan Brandfort se begraafplaas met Hannes Linde van Johannesburg wat die familie se geskiedenis uitlê.

Die Lindegrafte waar die herbegrafnis van onder andere die Vrystaatse stamvader Georg Fredrik Linde plaasgevind het. Voor die graf is die vyf Georg Frederiks wat by die fees teenwoordig was.

Kort Org en Martha Linde se vyf dogters staan met groot dankbaarheid by hulle ouers se graf.

Die besoek aan die plaas Schanskraal langs die Osspruit was ’n hoogtepunt. Dit is die plaas waar die Vrystaatse stamvader Georg Fredrik Linde hom kom vestig het. Dit behoort tans aan Piet (Glen) Linde.

Feesgangers by een van die oudste murasies wat nog op die plaas Schanskraal te sien is.

As jy ’n skaap wil spitbraai, vra maar vir Basie en Jurie Linde. Hulle weet van . . .

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

14 + six =