Linde-publikasies
Die geslagsregister van die Linde-familie is aanvanklik beskryf in die volgende twee boeke:
Linde, JC 1980. Die geslagsregister van Georg Fredrik Linde (Vrystaatse Lindes). Privaat uitgegee deur die skrywer, uit druk, slegs antikwaries beskikbaar.
Linde, JC 1984. Die geslagsregister van Hans Jürgen Linde (Swellendamse Lindes). Privaat uitgegee deur die skrywer, uit druk, slegs antikwaries beskikbaar.
Linde-nuusbriewe
Die Linde-Nuus verskyn minstens twee keer per jaar met inligting en nuus oor die familie en sy lede.
Uitgawes wat reeds verskyn het, kan in hierdie webwerf gevind en gelees word.
Om die nuusbriewe voortaan elektronies per e-pos te ontvang, stuur ‘n e-pos aan lindebond@gmail.com.
Facebook-blad
Die Lindes het ‘n Facebook-blad waar hulle met mekaar gesels en nuus deel. Sluit daar aan en geniet die kontak met lede van die familie. Die naam is Lindebond Suid-Afrika.
Linde-familiewapen


Die familie-wapen is op 18 Desember 1978 amptelik by die Buro vir Heraldiek geregistreer.
Die wapen word soos volg beskryf: “Wapen – in groen, drie gestengelde lindeblare gaffelsgewys aanstotend, en ’n skildhoof, alles van silwer.”
Linde-gesinswapens

Uit die familiewapen van die Lindebond kan individuele gesinne nou hulle eie gesinswapens laat ontwikkel.
Die eerste gesinswapen wat op hierdie wyse ontwikkel is, is dié van dr Hannes Linde van Johannesburg. ’n Weergawe daarvan in wit en swart verskyn hier.
Gesinne wat daarin belangstel om ’n eie gesinswapen te laat ontwikkel en registreer, kan direk met die Buro vir Heraldiek skakel. Gaan na die webwerf van die Buro vir Heraldiek vir meer inligting.
Drostdy-museum in Swellendam
Die Drostdy-Museum in Swellendam beskik oor waardevolle inligting en voorwerpe wat met die geskiedenis van die Swellendam-omgewing en die Linde-familie verband hou. Kontak die museum by +27 28 514 1138 of info@drostdymuseum.com. Of besoek die museum in Swellengrebelstraat 18, Swellendam of besoek hulle webwerf by drostdymuseum.co.za.
Geslagsregisters van ander families
Meer inligting oor families wat bande met die Linde-familie het, kan verkry word deur die webwerwe van die verskillende families te raadpleeg.
Die SA Genealogiese Genootskap (GSSA)
Die Suid-Afrikaanse Genealogiese Genootskap ondersteun familienavorsing in Suid-Afrika. Besoek hulle webwerf om inligting oor die omvang van hulle dienste te kry by genza.org.za.