September 2002

Fees 9: 27 tot 29 September 2002 te Mooigenoeg, Bloemfontein

1. Die derde fees in Bloemfontein se omgewing

Na vier jaar het dit tyd geword vir die volgende Lindefees. Die reëlingskomitee het bestaan uit Piet en Louise Coetzer (Swellendamse Lindes wat in Bloemfontein woon), Annatjie, Petrus, Elsie en Dirnel Fourie, Aldi Lombard, Basie, Elise en Piet Linde, Alta Louw, Cornia Billet en Debya Vermeulen. Die fees is by die Mooigenoeg-kampterrein in die noorde van Bloemfontein gehou.

2. Program

VRYDAG, 27 SEPTEMBER 2002

16:00   Aankoms en registrasie

18:00   Tee en toebroodjies, kenmekaar

SATERDAG, 28 SEPTEMBER 2002

08:00   Aankoms en registrasie van dagbesoekers

10:00   Opening en verwelkoming

11:00   Vol ontbyt, musiek en kuier, Linde-foto’s

14:30   Linde-vergadering, familiesake, oorkonde oorhandig

17:00   Spitbraai, dans, kuier

SONDAG, 29 SEPTEMBER 2002

09:30   Erediens deur ds Johann Lombaard van Bloemfontein

11:00   Afskeidstee, bedankings, groet

3. Kenmerke van die fees

Bywoning: Altesaam 96 Lindes en Lindeverwantes het die fees bygewoon. Daar was 77 Vrystaters en 19 Swellendammers by hierdie Vrystaatse fees.

Reëlings: Die spyskaart was puik. Veral Basie Linde se spitbraai die Saterdagaand sal die eters lank onthou. By die spitbraai gaan dit nie net oor skaapvleis nie. Dis die eintlike plek waar daar gekuier word! Die boeredans van Saterdagaand was plesierig. Dit was lekker om so baie van die jongklomp by die fees te sien. En as Piet Glen by die elektroniese orrel gaan sit, gaan dit jolig!

Oorkonde oorhandig: Johann Linde, voorsitter van die feeskomitee van 1998, het ’n oorkonde aan Piet Coetzer, die voorsitter van die feeskomitee van 2002, oorhandig. Daarin word melding gemaak dat dit vanjaar 249 jaar is sedert die stamvader Hans Jürgen Linde aan die Kaap aangekom het. Dit is ook 156 jaar sedert die Vrystaatse stamvader Georg Fredrik Linde hom op die plaas Schanskraal gevestig het. Na amper twee en ’n halwe eeu woon daar steeds duisende nasate van die Linde-familie in Suid-Afrika en in die buiteland en speel hulle ’n belangrike rol in die samelewings waarin hulle hulle bevind.

Dr Hannes Linde as erepresident: Dr Hannes Linde se aanbieding oor die Lindes se familiesake verstom ’n mens elke keer. Dié man het darem wyd nagevors – tot voordeel van ons almal. Hannes het uitgetree as voorsitter van die familiebond en is by die fees as erepresident aangewys. Die Lindes het geweldig baie aan hom te danke. Hy het die familie-navorsing aangepak en uiteindelik op eie koste twee boeke daaroor uitgegee. Hy het die Lindebond daargestel en vir 22 jaar die leiding geneem. Hy het die eerste 25 uitgawes van Linde-Nuus geskryf en op eie koste versprei. Hy het die Linde-bondswapen laat ontwerp en geregistreer. En hy was die dryfkrag agter die eerste agt Lindefeeste. Voorwaar ’n kragtige en inspirerende bydrae tot die Lindes se familiegeskiedenis.

Nuwe komitee: By hierdie fees is die volgende persone in die Linde-komitee verkies: Hans Linde van Wellington (Swellendammer, voorsitter), Annatjie Fourie van Verkeerdevlei (Vrystater, ondervoorsitter), Johann Linde van die Strand (Swellendammer) en Basie Linde van Brandfort (Vrystater).

’n Lewende lindeboom: En toe daag Dot Henegan (dogter van Luther Linde, Kareeklower) sowaar by die fees op met ’n lewende lindeboom. Die Lindes het hulle van te danke aan die lindeboom wat in Europa baie volop is. In Suid-Afrika aard hulle moeilik en dit is ’n prestasie om een aan die lewe te kry en te hou. Dot het 150 sade van Duitsland af ingevoer. Na ’n jaar het één daarvan opgekom.

Geslaagde fees: Mooigenoeg se fees was ’n baie geslaagde fees. Die groep was net groot genoeg dat almal met almal kon kontak maak en lekker gesels. Die reëlingskomitee het eer van hulle werk!

4. Vordering met die Lindebond se sake

Lindefonds: Die voorsitter rapporteer dat die Lindefonds aangegroei het tot R6 100.29. Almal wat bygedra het, word hartlik bedank. Die bydraes verteenwoordig jaarlikse ledegeld, eenmalige bydraes deur lewenslede en ander bydraes van goedgesinde persone. Almal wat bygedra het, word hartlik bedank.

Linde-Nuus: Sedert die vorige Lindefees in 1998 het vyf uitgawes van Linde-Nuus verskyn. Die feesgangers spreek groot dank uit teenoor Hannes Linde van Johannesburg wat tussen 1977 en 1999 as redakteur van die eerste 25 uitgawes van Linde-Nuus opgetree het. Hans Linde van Wellington, wat as redakteur by hom oorgeneem het, word sterkte toegewens vir die pad vorentoe.

Johann Linde van die Strand oorhandig die gebruiklike oorkonde namens die Swellendammers aan Annatjie Fourie van die Vrystaatse Lindes.

Die altyd vriendelike Dirkie Linde by haar drie dogters Annatjie, Elsie en Aldi.

Boetie Linde (links) van Swellendam in gesprek met Louise en Piet Coetzer wat ’n leeueaandeel gehad het om die fees by Mooigenoeg te reël.

Piet (Glen) Linde (regs) by sy vrou Vonita en hulle kleindogter JaVonne.

Berlinda en Nico Linde van Welkom met hulle kinders Jeanette en Org.

Louise en Piet Coetzer van Bloemfontein,wat die fees gereël het, staan tussen hulle kinders en kleinkinders.

Hannes Linde (regs) van Johannesburg is tydens hierdie fees aangewys as erepresident van die Lindebond. Langs hom staan sy vrou Kotie en Hans Linde van Wellington (links) wat die oorkonde aan hom oorhandig het.

Wanneer Piet (Glen) Linde voor die orrel gaan sit, word daar heerlik musiek gemaak.

Met genoeg mieliemeel op die vloer vloei die danspassies soveel beter.

Die reëlingskomitee wat van hierdie fees so ‘n groot sukses gemaak het.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

13 − four =