Belangrike Linde-persone

Hans Jürgen Linde (1730 – 1775)

Hy is die stamvader van die Afrikaanse Lindes in Suid-Afrika. Op 21 September 1730 word Hans Jürgen Linde(r) in Hagsfeld, Durlach (naby Karlsruhe) in Suid-Duitsland gebore. Drie dae later word hy in die Laurentius-kerk daar gedoop. Hy besluit om op 23-jarige ouderdom na Suid-Afrika te verhuis. Talle jongmense het in daardie jare weens die swak ekonomiese vooruitsigte in Europa besluit om na een van die kolonies uit te wyk. Hy pak die reis as soldaat in diens van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie in die skip Leijden aan en bring ’n groot en swaar leergebonde Duitse Bybel met hom saam. In die Kaap word hy in 1754 wamaker en in 1757 plaasarbeider. Hy verhuis na die Overberg en tree op 5 November 1758 in die huwelik met Catharina Elisabeth Swart (weduwee van Pieter Moleman), eienaar van die plaas Ganskraal by die latere Lindeshof tussen Greyton en Riviersonderend. Hy boer daar vir 17 jaar en tree op as seinwagter van die kanon op Tierberg. Die egpaar het ses kinders gehad, vier seuns en twee dogters. Op Erfenisdag, 24 September 2010, onthul die Linde-familie ’n gedenksteen vir hom in die kerkhof langs die ou Kaapse wapad op die plaas Leeukraal by Lindeshof, waar hy na alle waarskynlikheid ná sy dood in 1775 begrawe is.

Jacobus Linde (1760 – 1843)

Die stamvader se tweede seun, Jacobus Linde, was ’n dapper man wat deur generaal Janssens vertrou is om hom op talle militêre ekspedisies, onder andere na die grensgebied, te vergesel. As beloning vir sy dapperheid het hy die plaas De Oudekraal, waar hy aan die Sonderendrivier gaan woon het, en ’n silwerbeker met ’n inskripsie ontvang. Toe die Engelse in 1806 in Tafelbaai aankom, het Jacobus as een van die generaals van die 225 berede Swellendamse krygers die verdedigers te hulp gesnel. Toe die burgers by geleentheid voor die Engelse moes terugval, het Linde sy manne beveel om agterstevoor op hulle perde te ry om die vyand in die vlug onder die lood te kan steek. Later jare het hy aan verskeie grensoorloë deelgeneem en was tot sy tagtigste jaar hoof van die Swellendamse kommando. Hy het verskeie plase as geskenk gekry vir sy deelname aan die militêre bedrywighede. Hy is begrawe in die kerkhof op die plaas Leeukraal langs die Sonderendrivier.

Johannes Christoffel (Jan) Linde (1798 – 1880)

Jan was die agtste kind van kommandant Jacobus Linde. Hy het in die voetspore van sy pa gevolg en as kommandant die burgers van Swellendam in 1846 – 1847 in die Oorlog van die Byl teen die opperhoofde Pato en Kreli aangevoer. Hy het in 1849 as kommandant bedank en is deur Sir Harry Smith as vrederegter aangestel. Hy het ’n aantal plase langs die Sonderendrivier as vergoeding ontvang en die omgewing is as gevolg daarvan Lindeshof genoem. Jan is met sy niggie Catharina Elisabeth Linde getroud en hulle het net een dogter gehad, Isabella Maria (Nonnie). Sy is getroud met Jacob Hendrik Beyers, en so het die ou Linde-familieplaas Leeukraal aan die Sonderendrivier in die Beyers-familie se besit gekom. Tot vandag toe boer lede van die Beyers-familie met groot sukses by Lindeshof. Jan Linde is begrawe in die ou familiekerkhof op Leeukraal by Lindeshof.

Georg Fredrik Linde (1804 – 1877)

Georg Fredrik Linde (Org) is ’n kleinseun van die stamvader. Hy erf die plaas Tierhoek by Riviersonderend met sy pa Nicolaas se dood in 1836 maar kry in 1839 toestemming om die distrik Swellendam as deel van die Groot Trek te verlaat en na Colesberg te verhuis. Later vestig hy hom as eerste eienaar op die plaas Schanskraal in die distrik Brandfort, waar hy later ook oorlede is. Hy word in 1851 tot die Wetgewende Raad verkies en was in 1854 mede-ondertekenaar van die Bloemfontein-Konvensie waardeur die Vrystaat sy onafhanklikheid gekry het. Hy dien in die provinsiale regering en later in die Uitvoerende Raad. Omstreeks 1855 word hy kommandant van die burgers in die Bloemfontein-distrik en in 1856 voer hy hulle aan teen die Basotho’s na aanleiding van voortdurende strooptogte. In 1861 word hy tot lid van die Volksraad verkies en dien tot 1864, toe hy hom voltyds aan die boerdery gewy het. Org was drie keer getroud, die laaste keer met Petronella Aletta De Lange, weduwee van generaal Andries Pretorius. Hy het sewentien kinders gehad, waarvan agt seuns. Sewe hiervan is die stamvaders van die sewe familiegroepe van die Vrystaatse Lindes. Vanweë die verwaarlosing van die familiegrafte op die plaas Schanskraal is die oorskot van Org, twee van sy vroue (Petronella Aletta en Anna Magdalena) en een van sy seuns en dié se vrou (Roelof Jacobus en Andriatha Wilhelmina Jacoba) op 10 Julie 1961 in die kerkhof op Brandfort herbegrawe.

Hans Jurie Linde (1812 – ?)

Hans was die oudste agterkleinseun van die stamvader wat sy name gedra het. Hy was die eerste wie se tweede naam die tipiese Afrikaanse vorm Jurie gekry het. Hans het op Joubertsdal aan die Bruintjiesrivier in die distrik Swellendam geboer en was ’n voorbeeldige ouderling in die gemeente. Jare later sou ds George Murray van Swellendam ’n boek skryf oor die Christelike deugde. Die denkbeeldige hoofkarakter van die boek, oom Willem Smit, is geskoei op die lewe en voorbeeld van hierdie Hans Linde. Die foto voor in die boek is werklik sy foto. Hy was getroud met Elsje Maria Diderika Uys en hulle het tien kinders gehad. Hans is self die stamvader van die Leeuwrivierers, die talrykste onderafdeling van die Swellendamse Lindes. Ses van sy seuns is die stamvaders van ’n verdere ses onderafdelings en drie van sy broers is stamvaders van ’n verdere drie onderafdelings van die Swellendamse Lindes.

Louis Jonas Linde (1818 – ?)

Louis was ’n jonger broer van Hans Jurie Linde van Joubertsdal, Swellendam. Hy boer op Kluitjieskraal langs die Breederivier suidwes van Swellendam. Hy was getroud met Zachary Geertruida van Eeden en hulle het sewe kinders gehad. Hy was die stamvader van die Kluitjieskralers, die tweede talrykste onderafdeling van die Swellendamse Lindes. Sy oudste seun, Hans Jurie, het die bynaam Hans Perdekoning gehad. Hy het graag perd gery en hy kon dit op 91-jarige ouderdom nog baie goed doen.

Petronella Aletta (De Lange) Linde (1825 – 1929)

Petronella was die tweede vrou en weduwee van die befaamde Voortrekkerleier, generaal Andries Pretorius. Kommandant Johannes (Hans Dons) de Lange wat later in Natal tereggestel is, was haar jongste oom. Sy was die derde vrou van Georg Fredrik Linde, die Vrystaatse stamvader. Vyf kinders is uit hierdie huwelik gebore. Toe sy op 18 Januarie 1929 oorlede is, was sy 103 jaar, 10 maande en 24 dae oud. Haar honderdste verjaarsdag is op 25 Februarie 1925 op Wardenfield in die distrik Brandfort gevier. Daar was ’n honderd motors en baie meer mense teenwoordig waar tien bokseile langs die huis opgeslaan is om die piekniekgangers en die sprekers te huisves.

Jan Linde (1825 – ?)

Jan was ’n jonger broer van Hans Jurie Linde van Joubertsdal, Swellendam. Hy was die stamvader van die Suidpunters van die Swellendamse Lindes. Hierdie onderafdeling is in 2017 eers ontdek en moet nog verder nagevors word. Hulle word die Suidpunters genoem omdat van die nasate in Napier begrawe lê, naby die suidpunt van die kontinent.

Gerhardus Johannes Linde (1830 – ?)

Gerhardus was ’n jonger broer van Hans Jurie Linde van Joubertsdal, Swellendam. Hy was getroud met Maria Catharina Steyn en hulle het sewe kinders gehad. Hy was die stamvader van die Rietfonteiners van die Swellendamse Lindes. Hierdie onderafdeling is in 2010 eers ontdek en moet nog verder nagevors word. Hulle word die Rietfonteiners genoem omdat van die nasate op die plaas Rietfontein in die Klein-Karoo gewoon het.

Marthinus Johannes Linde (1835 – 1920)

Marthinus was die oudste seun van Georg Fredrik Linde, die Vrystaatse stamvader. Hy was getroud met Geertruida Cornelia Erwee en hulle het veertien kinders gehad. Hy was die stamvader van die Kareeklowers, een van die talrykste onderafdelings van die Vrystaatse Lindes.

Johan Gysbert Linde (1838 – ?)

Johan Gysbert was die derde kind van Georg Fredrik Linde, die stamvader van die Vrystaatse Lindes. Hy was getroud met Anna Jacomina Botha en hulle het drie kinders gehad waarvan een ’n seun was. Johan het nie sy vaderlike pligte na behore nagekom nie. Sy seun Georg Frederik (Frikkie Paradys) het om hierdie rede by Koos Prinsloo op die plaas Palmietfontein grootgeword en later ook die plaas Paradys van hom geërf. Koos Prinsloo was met ’n halwe suster van Johan Gysbert, Susanna Catharina, getroud en is in so mate deur Frikkie as vader aanvaar dat hy sy vyfde kind Kobie na Koos Prinsloo vernoem het. Johan Gysbert (of dan eerder Frikkie Paradys) was die stamvader van die Paradysers, die heel kleinste van die onderafdelings van die Vrystaatse Lindes.

Georg Frederik Linde (1840 – 1903)

Georg Frederik was die vyfde kind van Georg Fredrik Linde, die Vrystaatse stamvader. Hy was getroud met Catharina Ignatia Maria Rensburg en hulle het agt kinders gehad. Hy was die stamvader van die Dealesvillers van die Vrystaatse Lindes. Hulle boer al vir baie jare in die distrik van Dealesville. Die naam Georg Frederik word al vir sewe geslagte op een van die plase gedra.

Nicolaas Albertus Linde (1842 – 1881)

Nicolaas Albertus was die sewende kind van Georg Fredrik Linde, die Vrystaatse stamvader. Hy was getroud met Margaretha Jacoba Janse van Rensburg en hulle het ses kinders gehad. Hy was die stamvader van die Frankforters van die Vrystaatse Lindes. Hulle boer in die Frankfort-distrik naby aan die Vaalrivier.

Dirk Cornelis Linde (1844 – 1909)

Dirk is in Swellendam gebore as die vierde kind van Hans Jurie Linde van Joubertsdal. Hy het as jong man Vrystaat toe getrek. Hy is op Boshof met Barbara Johanna Susanna Uys van Bredasdorp getroud. Hulle het vyf dogters en een seun, Hans Jurie Linde, gehad. Dirk is die stamvader van die Boshoffers van die Swellendamse Lindes.

Roelof Jacobus Linde (1848 – 1898)

Org, die Vrystaatse stamvader, se enigste seun Roelf uit sy tweede huwelik het op die plaas Wardenfield gewoon. Die nageslag van hierdie familielyn is lang skraal mense en was bekend as die Warmfielers. Hulle kon baie lekker dans en musiek maak. Hy was getroud met Andriatha Wilhelmina Jacoba Pretorius en hulle het twaalf kinders gehad. Sy was die dogter van kommandant-generaal Andries Pretorius, die held van Bloedrivier, en Petronella de Lange, wat weer ’n broerskind van Johannes (Hans Dons) de Lange was. Dit is hierdie selfde Petronella wat later as weduwee die derde vrou van stamvader Org geword het. Toe sy met Org getroud is, het hy vir Roelf en sy vir Andriatha gehad. Aangesien laasgenoemde twee getroud is ná die troue van Org met Petronella, is Roelf dus met sy stiefsuster getroud en sy skoonma was ook sy stiefma. Roelf was die stamvader van die Warmfielers van die Vrystaatse Lindes.

Louis Jonas (Lewies) Linde (1849 – 1938)

Lewies was die sesde kind van Hans Jurie Linde van Joubertsdal. Hy is in 1875 getroud met Susanna Maria Magdalena van Eeden. Hulle het elf kinders gehad. Na haar dood in 1896 is hy getroud met Zacharya Geertruida Steyn en by haar het hy ’n verdere vyf kinders gehad. Hy het sy lewe lank in Swellendam gewoon en was die stamvader van die Lewiesers van die Swellendamse Lindes.

Johannes Gerhardus Linde (1851 – 1923)

Johannes was die sewende kind van Hans Jurie Linde van Joubertsdal, Swellendam. Hy het as jong man Vrystaat toe getrek en is in Winburg met Jacoba Jacomina le Roux getroud. Hulle het vier kinders gehad wat op Bultfontein en Winburg gebore is. Sy oudste seun, Jacobus Stephanus Linde, het in Theunissen gewoon, maar besluit om met sy vrou en twee kinders Suidwes-Afrika toe te trek en hulle op die plaas Lindehof buite Outjo te vestig. Sy nasate staan as die Suidwesters van die Swellendamse Lindes bekend.

Gerhardus Johannes Hermanus (Gert) Linde (1853 – ?)

Gert was die agtste kind van Hans Jurie Linde van Joubertsdal, Swellendam. Hy is getroud met Susanna Martha Steyn en hulle het elf kinders gehad. Baie van hulle nasate het op die plaas Voorrechtsvlei geboer. Daarom was Gert die stamvader van die Voorrechtsvleiers, die derde talrykste onderafdeling van die Swellendamse Lindes.

Pieter Emelius Streicher Linde (1855 – 1935)

Pieter was die negende kind van Hans Jurie Linde van Joubertsdal, Swellendam. Hy is vernoem na ’n goeie vriend van sy pa en daardie name het in hierdie afdeling van die Linde-familie ’n belangrike plek ingeneem. Pieter het van Boesmanspad af gekom en die plaas Bruintjiesrivier (wes van Swellendam en vernoem na Bruintjie, ’n perd van die Steyns, die oorspronklike eienaars) vir 700 goue ponde gekoop. Hy was ’n dapper man en verower ’n silwermedalje vir sy deelname aan die laaste grensoorlog. Hy was ’n stil maar oplettende man wat ’n groot bydrae in die gemeenskap gelewer het. Hy is getroud met Hendrina Jacomina Cilliers en hulle het twaalf kinders gehad. Hy is die stamvader van die Bruintjiesrivierers van die Swellendamse Lindes.

Frederik Jacobus Linde (1858 – 1935)

Frederik was die tiende kind van Hans Jurie Linde van Joubertsdal, Swellendam. Hy het as jong man Noord-Kaap toe getrek en het hom in Vryburg se distrik gaan vestig. Hy was getroud met Anna Engelia Theunissen en hulle het ses kinders gehad. Hy is die stamvader van die Vryburgers van die Swellendamse Lindes en van sy nasate boer steeds baie suksesvol op Coetzersdam noordwes van Vryburg.

Barend Jacobus (Koos) Linde (1859 – 1914)

Koos was die sestiende kind van die Vrystaatse stamvader Georg Fredrik Linde. Koos se naam verskyn onder die krygsgevangenes van Anglo-Boereoorlog. Hy is na St Helena verban. Hy was glo ’n baie kwaai man. Hy het altyd op sy plaas rondgeloop met neergeslane oë en afgemete treë. Met presiese tussenposes het hy sy kop opgelig en meerderwaardig oor die plaas heen gekyk. Dit was hy wat tydens ’n biduur vir reën gebid het: “Here, laat dit nie net tip-tip nie, maar sommer shorrr!” Koos was getroud met Susanna Johanna Fourie en hulle het sewe kinders gehad. Hy was die stamvader van die Schanskralers, een van die talrykste onderafdelings van die Vrystaatse Lindes. Hulle is vernoem na die plaas Schanskraal, die oorspronklike plaas langs die Osspruit tussen Bloemfontein en Winburg waarop die Vrystaatse stamvader hom gevestig het.

Petrus Albertus (Piet) Linde (1861 – 1936)

Piet was die sewentiende kind van Georg Fredrik, die Vrystaatse stamvader. Hy was getroud met Cornelia Nicolasina Taute. Piet boer op Pietersdal, ’n deel van Schanskraal in die distrik Brandfort. Pietersdal is aan die oostekant van die Osspruit, die rivierloop wat die twee plase skei. Hy het nege kinders gehad, ses seuns en drie dogters. Hy was die stamvader van die Pietersdalers van die Vrystaatse Lindes.

Johannes Cornelius (Hannes) Linde (1929 – 2011)

Hannes stam uit die Pietersdalers van die Vrystaatse Lindes. Sy eerste huwelik was met Jacoba Catherina (Kotie) Odendaal en hulle het vier kinders. Hannes het in 1988 die graad D Phil in mineraalekonomie aan RAU ontvang – die eerste persoon in RSA wat dit vermag het. Hy dien as geoloog en as ingenieur in die mynwêreld. Hy is in 1961, tydens die herbegrafnis van die Vrystaatse stamvader in Brandfort se begraafplaas gevra om namens die Linde-jeug ’n toespraak te maak. Dit het sy belangstelling in die genealogie wakkergemaak, en hy het baie kosbare tyd daaraan bestee om die Lindes se genealogiese besonderhede na te vors en te orden. Hy publiseer twee boeke: Geslagsregister van Georg Fredrik Linde (1980) en Geslagsregister van Hans Jürgen Linde (1984). Hy is die dryfkrag agter die eerste nege Lindefeeste, tree as redakteur van die Linde-Nuus op vir die eerste 25 uitgawes en word verkies as die eerste voorsitter van die Linde-Familiebond. In 2002 tree hy uit en word die eerste erepresident van die Bond tot met sy dood in 2011. Die werk van dr Hannes Linde om die genealogie van die Linde-familie na te speur en die familie tot ’n eenheid saam te snoer, kan nie genoeg geprys word nie. Die Lindes van Suid-Afrika is oneindig baie aan hom te danke. Ons dank die Here vir sy lewe, sy gesindheid en sy voorbeeld.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

two + twenty =