Fees 11: 25 tot 27 September 2009 te Stone Safari’s, Brandfort
1. Fees by Stone Safari’s noord van Brandfort
Vier jaar het verloop sedert die vorige Lindefees in 2005 op Brandfort gehou is. Dit was tyd vir ’n volgende fees. Die komitee wat hierdie elfde Lindefees gereël het, was Basie en Elize Linde, Annatjie en Elsie Fourie, Gerdus en Ina Linde, Jurie Linde en Piet en Jason du Preez.
2. Program
VRYDAG, 25 SEPTEMBER 2009
16:00 Aankoms en registrasie
18:00 Aandete
SATERDAG, 26 SEPTEMBER 2009
10:00 Verwelkoming deur Basie Linde, die voorsitter van die reëlingskomitee
11:00 Midontbyt
12:00 Wildrit deur die privaat wildtuin
14:00 Byeenkoms: Linde-sake, vertellings, foto’s, kunsuitstalling deur Andrei Heys
16:00 Nog ’n wildrit of rugby op TV
18:00 Braaivleis-ete, kuier met gesels, dans en musiek
SONDAG, 27 SEPTEMBER 2009
09:00 Erediens
12:00 Bedankings, groet en vertrek
3. Kenmerke van die fees
Bywoning: Daar was 55 persone by die fees. Die meeste was Vrystaatse Lindes, maar die Swellendammers was ook goed verteenwoordig. Die plek was goed gekies. Daar was genoeg ruimte en tyd om almal te leer ken en met almal ’n geselsie in te kry. Die meeste feesgangers het van die onmiddellike omgewing gekom, maar daar was ook Lindes van so ver as Kaapstad, Strand, Wellington, Benoni, Welkom, Pretoria, Johannesburg en Mosselbaai. Die oudste feesganger was tannie Dirkie Linde (86 jaar) en die jongste haar agterkleindogter Nerika Casaleggio (2 jaar en 9 maande).
Hannes Linde word 80: Op 30 Augustus het Hannes Linde, die erepresident van die Lindebond, 80 jaar oud geword. Dit is tydens die fees gevier met ’n groot verjaarsdagkoek met die Lindewapen daarop. Hannes moes dit sny terwyl hy hartlik deur die feesgangers toegesing is.
Oorkonde oorhandig: Ook by hierdie fees is ’n oorkonde met groete van die Swellendamse Lindes deur Johann Linde aan Basie Linde as verteenwoordiger van die Vrystaters oorhandig. Die oorkonde sluit af met die woorde: “Mag die Lindes in die jare wat voorlê nuwe hoogtes bereik, elke dag ons roeping in Suid-Afrika uitleef en ons land in die toekoms tot eer van die Here ’n mooier en beter plek maak.”
4. Vordering met die Lindebond se sake
Lindefonds: Tydens die fees is verslag gedoen dat die Lindefonds in die vier jaar sedert die vorige fees van R8 712.13 gegroei het tot R16 172.49. Dit verteenwoordig ’n groei van gemiddeld 16.72% per jaar. Almal wat bygedra het, word hartlik bedank.
Linde-Nuus: Sedert die vorige fees het elf uitgawes van Linde-Nuus verskyn. Dit is ’n gemiddeld van bietjie meer as twee uitgawes per jaar. Die nuusbrief word per landpos gemiddeld aan 195 adresse per uitgawe gepos. Die feesgangers bedank die redakteur, Hans Linde van Wellington, en almal wat aan die Linde-Nuus meegewerk het.
Webwerf vir die Lindes: Op die fees was teenwoordig Ernst Linde van Kaapstad. Hy is die tweede seun van Johann Linde van die Strand. Hy het aangekondig dat hy pas ’n eie webwerf vir die Lindes ontwerp en in werking gestel het. Die adres is www.lindebond.co.za. Baie dankie, Ernst!

Hannes Linde van Johannesburg se 80ste verjaarsdag is tydens die fees gevier. Hier sny hy die koek terwyl Basie en Nico Linde toekyk.

Die ywerige komitee wat die fees gereël het. Van links Gerdus en Ina Linde, Jurie Linde, Basie en Elize Linde, Annatjie en Elsie Fourie, Piet en Jason du Preez.

Saterdagmiddag is tyd vir rugby kyk.

Stone Safari’s het nie net gerieflike huisvesting nie, maar bied ook wildritte aan vir die feesgangers.

Wat veral lekker was, was dat gesinsgroepe van drie geslagte die fees bygewoon het. Hier staan Jeanette, Louis, Riekies, Dot, oupa Manie en kleinseun Manie Linde, almal Schanskralers van die Vrystaatse Lindes.