September 1998

Fees 8: 18 tot 20 September 1998 te Kliphoogte, Swellendam

1. Die tweede fees in die Swellendam-omgewing

Dit was hoog tyd dat ’n Lindefees weer in Swellendam se omgewing gehou word. Die tweede Lindefees is in Oktober 1980 in Swellendam gehou, maar intussen het amper agtien jaar verloop en is vyf Lindefeeste in die noorde gehou. Die bymekaarkomplek was die rugbyklubsaal in Kerkstraat, Swellendam. Die feesprogram sou ook ’n besoek insluit aan die plaas Kliphoogte wat al vir meer as ’n eeu en ’n half in die Linde-familie is. Mareta Linde, weduwee van Frederik Jacobus Linde, boer tans op die plaas en het ’n belangrike rol gespeel om die fees te reël.

2. Program

VRYDAG, 18 SEPTEMBER 1998

17:00   Aankoms, verwelkoming, kenmekaar.

18:00   Ligte aandete

19:00   Oorhandiging van oorkonde, vertellings, aandgodsdiens

SATERDAG, 19 SEPTEMBER 1998

09:00   Vertrek na Lindeshof vir besoek aan Lindeshof

12:00   Eie middagete

16:00   Verwelkoming en familiesake

18:00   Aandete, gesellige verkeer en aandgodsdiens

SONDAG, 20 SEPTEMBER 1998

09:30   Vergader op Kliphoogte vir oggenddiens

10:45   Besigtiging van die plaas, tee en afskeid

3. Kenmerke van die fees

Bywoning: Die fees is deur 46 persone bygewoon. Die fees het buite die Vrystaatse skoolvakansie geval. Dit het meegebring dat hoofsaaklik Swellendamse Lindes die fees bygewoon het.

Staaltjies uit die verlede: Vrydagaand het Emelius Linde van Pretoria, uit die Bruintjiesrivierse Lindes en broer van die bekende skryfster Freda Linde, die teenwoordiges vergas met staaltjies uit die verlede van die Lindes van daardie omgewing.

Besoek aan Lindeshof naby Riviersonderend: Die besoek aan die ou kerkhof langs die ou Kaapse wapad was iets besonders. Hier is die driedubbele graf waar kommandante Jacobus en Jan Linde en hulle eggenotes begrawe lê. Dr Hannes Linde het sy navorsing uiteengesit wat daarop dui dat Hans Jürgen Linde, al die Lindes se stamvader, ook saam met sy eggenote daar begrawe is. Daarna is die bouval van die Ouwerf-kerkgebou daar naby ook besoek. Dit is rondom 1861 deur kommandant Jan Linde laat oprig en het ’n belangrike rol in daardie gemeenskap gespeel.

Braambosskerm: Saterdagaand het die Lindes saamgeëet by die Braambosskerm, net buite die dorp aan die suidwestekant. Die ete is opgekikker met goeie wyn van die wynmaker Wilhelm Linde van Nuy-kelder. Heelwat van die jonger geslag het by die groep aangesluit en die aand saam geniet.

Oggenddiens op Kliphoogte: Dit was ’n voorreg om die diens op strooibale in die skuur op Kliphoogte by te woon. Mareta se seun Herman Linde, 23 jaar oud, het sang uit die boonste rakke gelewer en die kerkgangers met sy kitaar begelei. Hans Linde, Leeuwrivierer van Wellington, het die diens gelei met Skriflesing uit Miga 6:8-9: “Die Here vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.”

Onthaal op Kliphoogte: Na die diens het die feesgangers die plaas besigtig. Die kerkhof en die buitegeboue met die geelhoutkrippe het die grootste indruk gemaak. Tydens die onthaal met heerlike koek en tee het Johann Linde, Leeuwriviere van die Strand die aanwesiges laat skater met sy komiese vertellings van vroeër dae op die plaas. Daarna was dit tyd vir groet en vertrek.

Die Beyerse van Lindeshof het kom kuier. By Johann Linde (Swellendamse Linde, links) staan Linde Beyers en sy vrou van Lindeshof.

Waar gesels ‘n mens lekkerder as met ‘n glasie wyn rondom die etenstafel? Hier gesels Hans, Juliana, Boetie en Riana Linde met die Beyerse van Lindeshof.

Die feesgangers besoek die ou kerkhof op die plaas Leeukraal by Lindeshof waar die stamvader Hans Jürgen Linde na alle waarskynlikheid begrawe lê.

’n Groot deel van die feesgangers voor die skuur waar die feesdiens Sondagoggend gehou is.

Feesgangers by die ou opstal op die Linde-plaas Kliphoogte wat almal Sondagoggend besoek het.

Heerlike gesels na die kranslegging by die kerkhof op Kliphoogte met die pragtige uitsig oor die Langeberg op die agtergrond.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

three − 3 =